'n Bietjie suikerwater en ‘n maxalon naar pilletjie het my nou die dag van die grond af opgetel en my nuwe krag gegee vir die res van die werks-dag. Ek is nie iemand wat sommer flou raak of gril vir bloed nie – inteendeel, ek geniet die adrenalien wat dit gee. Maar een spesiefieke dag was dit net te veel vir my sisteem.
Dit was ‘n besige dag. Klinieke toe vir my projek, pasiënte in my kantoor, baie admin, ou en nuwe pasiënte in die hospitaal-sale, en ‘n suster wat ferm by my arm inhaak.
Suster: “Dis tyd, kom.”
Voordat ek besef wat aangaan bereik ons die kraamsaal. As ‘n dieetkundige het ons baie te doen met mammas en babas, veral aangaande borsvoeding. Die hospitaal het ook ‘n MBFI policy (Mother Baby Friendly Initiative) waar ons moet seker maak al 10 stappe word toegepas. Met ‘n policy kom baie audits en admin. Ek het ‘n knop in my keel gekry toe ek agterkom ek moet 4 geboortes observeer vir die audit-storie.
En sien die toe gordyne en probeer myself dapper hou. Suster maak die gordyne oop en ek vat ‘n vinnige tree na binne. Vir die volgende 5 minute staan ek soos ‘n versteente en probeer fokus op die mooi. My lêer is nognooit so styf vasgehou nie. Alles is verby en my audit begin met die eerste stap – vel-tot-vel direk na geboorte. Ek probeer nader staan om alles mooi in te neem, maar my sisteem kom toe agter wat alles gebeur het. Woeps, en ek en my lêer lê op die grond.
Dieselfde suster gryp my weer om die arm. Bloeddruk: 80/50 mmHg. Naar pilletjie. Suikerwater.
Dit was ‘n groot grap vir my kollegas, maar vir die volgende 3 audits drink ek bietjie suikerwater voordat ‘n suster my weer om die arm gryp.
Comments